
=====================================================================
Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke (AV 5:2)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke

Hoe "veg" jy vir 'n taal -- en spesifiek vir Afrikaans, wat tans verliese op soveel terreine ly? Dit is die vraag van talle besorgde 
Afrikaanstaliges. Maar niemand kan 'n toerreikende antwoord gee nie, s Jaap Steyn.   Hy "probeer".

DIE Afrikaanstaliges is sonder politieke mag en het betreklik min ekonomiese mag -- en dit terwyl di twee soorte mag in die rel 
noodsaaklik is vir sukses in enige "taalstryd", dit wil s die verset teen die taaldwang van 'n owerheid.

'n Minder ambisieuse vraag sou lui: hoe berei 'n mens jou voor op effektiewe verset teen hierdie taaldwang? Ten minste deur die volgende:

* groter eenheid onder Afrikaanstaliges te bewerkstellig;
* geld in te samel vir taalaksies;
* 'n sterker taalbewustheid en taallojaliteit aan te kweek; en
* groter duidelikheid te kry oor die oogmerke wat ons met taalaksies wil bereik.

Eintlik is daar reeds pogings om party van di dinge te doen. Berigte maak melding van meer as een inisiatief, beweging, oorlegsentrum, 
forum en beraad. Oral word verklaar dat daar geen politieke bande moet wees nie. Politiek het die taalgemeenskap verdeel, en bykomende 
politiek sal ons verder verdeel, word gevoel. Maar aan die ander kant is dit politici wat besluit dat Afrikaans afgeskaal word, en is dit 
politici wat di besluit sal moet herroep. Om aan die gang te kom, sal enige beweging partypolitiek moet vermy, maar as dit werklik iets 
wil bereik, sal dit op die ou end onvermydelik die politieke of staatkundige terrein moet betree.

'n Probleem vir enige Afrikaanse beweging is dat dit so breed en algemeen kan wees dat die ondersteuners nooit gaan saamstem oor wat hulle 
moet aanpak nie, of selfs oor wat werklik as taalmiskenning beskou kan word. 'n Soort inklusiwiteit van handhawers, anti-handhawers en 
onverskilliges sal lei tot verlammende onmag. Dit kan ewe min sukses h as 'n direksie waarvan sommige lede wins wil maak, en ander 
redeneer dat verliese nie saak maak nie of selfs morele winste is. Dr. Karel Prinsloo   praat in 'n verklaring in Rapport van 18 Januarie 
1998   van samewerking deur "besorgde" Afrikaanstaliges, en van hul samesnoering rondom die handhawing van die taal. Dit lyk na die minimum 
voorwaarde vir sukses: besorgdheid en erkenning van die noodsaak om die huidige verliese te probeer stuit.

Boonop is daar twee sterk oorwegings ten gunste van 'n bre beweging. Die eerste is dat dit baie mense kan betrek wat tot dusver nie 
deelgeneem het aan enige taalaksies nie, en die tweede dat so 'n liggaam by onderhandelings met die maghebbers groter gewig sal dra as 
organisasies met beperkter lidmaatskap.

Dit sou ideaal wees as so 'n vereniging kan optree as drukgroep. Dit moet byvoorbeeld skakelbeamptes kan aanstel en genoeg geld h om 
behoorlike regsadvies in te win.

Geld is ook nodig vir ander sake soos moontlike eie skole, selfs 'n eie televisiediens. Maar dis moeilik om geldelike steun vir taalsake te 
kry. Dit blyk duidelik as 'n mens die 1992-geldinsameling vir die Stigting vir Afrikaans vergelyk met die jaarlikse insameling vir die 
Kersfondse van die Afrikaanse dagblaaie. Vir die Stigting het die drie Afrikaanse dagblaaie sowat R300 000 ingesamel. Verlede jaar het Die 
Volksblad vir sy   Kersfonds net in die Vrystaat en Noord-Kaap, dus van die armste dele van die land, naby die R900 000 gekry. Dit sou 
miskien die moeite loon om te probeer vasstel waarom mense soveel makliker vir die Kersfonds geld skenk as vir die Stigting.

Terug na bo

Mense gee geredelik vir liefdadigheid

Dit kan wees dat daar in 1992 nog nie so 'n akute besef was van die dreigende gevaar vir Afrikaans nie. Of dat die verdagmakery van die 
Stigting deur politiek links en regs mense afgeskrik het. Miskien gee die publiek meer geredelik vir 'n godsdienstige doel of vir 
liefdadigheid as vir 'n taal- en kulturele oogmerk, en eerder vir 'n spesifieke doel as vir iets wat toe vaag en ongedefinieerd was.

Dat mense bereid is om flink by te dra tot 'n projek, het 'n paar jaar gelede geblyk met die insameling vir 'n Afrikaanse televisiediens. 
Ongelukkig het dit skeefgeloop omdat die persoon aan die hoof nie 'n onberispelike verlede gehad het nie. Di geskiedenis sal die publiek 
se houding teenoor dergelike projekte nog lank benvloed.

Moeiliker en noodsaakliker as geldinsameling, selfs die moeilikste deel van die voorbereiding vir taalaksies, is die aankweking van groter 
taalbewustheid en taallojaliteit. Die houding van die taalgemeenskap teenoor 'n dominante taal soos Engels is heeltemal anders as teenoor 
'n nie-dominante taal. Propaganda vir 'n dominante taal is doeltreffend, maar vir 'n nie-dominante taal ni.

Die versterking van taalgetrouheid vir Afrikaans sal dus indirek moet geskied deur belangstelling in en waardering vir die prestasies van 
Afrikaans te wek. Kennis van waardevolle literre en ander werke in Afrikaans sal ook die gehegtheid aan en trots op die taal bevorder.

Wat verder positief kan werk, is koerante en tydskrifte, of ondernemings soos die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die   Kaapse literre 
toere na die wrelde van Van Wyk Louw en W.E.G. Louw, Leipoldt, Boerneef, Langenhoven, die skrywers van die Overbergstreek en ander. As die 
belangstelling in die boek kan kom deur "die wreld van die digter" en "die mens agter die boek", waarom sal mens dit versmaai?

Taalgetrouheid hou dikwels verband met nie-talige sake, veral "die beeld van die Afrikaner", wat deur sienings oor sy verlede bepaal word.

Terug na bo

Afrikaans in krisis

In di opsig verkeer Afrikaans werklik in 'n krisis. Die persepsies wat oor die Afrikaner en Afrikaans gevorm word, word koelbloedig maar 
korrek saamgevat deur 'n Vlaamse sosiolinguis, prof. Kas Deprez, weliswaar in 'n   onsimpatiek geformuleerde stuk in De Morgen van 6   
Desember 1997: "De Zwarten willen Engels. Omdat het Engels een internationale taal is en het Afrikaans niet. Omdat het Engels ook de taal 
van de struggle was, het Afrikaans de taal van foltering en moord. Ieder volk zijn eigen verleden. In de Waarheidscommissie maak je ze mee 
in al hun onmenselijkheid. Bijvoorbeeld als ze vertellen hoe ze Steve Biko ombrachten. Ieder volk zijn eigen taal. Zelfs op so'n momenten 
vinden ze het nodig Afrikaans te spreken. Een slechtere publiciteit voor het Afrikaans is niet denkbaar."

Ongelukkig blyk die ander waarhede van Suid-Afrika ni uit die verhore van die Waarheidskommissie nie, soos die deelnemers aan die struggle 
se foltering van en moorde op dissidente, asook weerloses in die burgerbevolking. "Ieder volk zijn eigen verleden", maar vergete is die 
Afrikaanse stemme wat deur dekades heen vir die regte van die swartes geklink het, die boeke wat geskryf is met die uitdruklike strewe dat 
Afrikaans gebruik word as taal van verset teen apartheid. Vergete, eweneens, is di wat hulle, weliswaar in 'n ander raamwerk, vir die 
ontwikkeling van die Afrikatale beywer het. Dis ironies dat di tale in party opsigte, byvoorbeeld as televisiemedium, beter daaraan toe 
was in die vorige bedeling.

Die eensydige beeld van die Afrikaner wat die Waarheidskommissie en die regeringspropaganda skep, het ook negatiewe gevolge vir die 
Afrikaanstalige self. 'n Beeld word gebou, selfs gefabriseer, van die Afrikaner as wreed en boosaardig, 'n groep waarmee 'n ordentlike mens 
hom nie kan assosieer nie.

Dit is noodsaaklik om die gebeurtenisse van die laaste aantal dekades ewewigtiger te beoordeel as tans. Die balans tussen negatief en 
positief ontbreek ook in opvattings oor ons talegeskiedenis; mens hoor selfs onder Afrikaanstaliges dwaashede soos dat universiteite 
Afrikaans geword het deur die beleid van die "apartheidsregime" Op 'n vergadering van 'n belangrike regeringskommissie het 'n verengelste 
Afrikanervrou dit verwelkom dat daar nie langer, soos onder die "apartheidsregime", subsidies aan die "Boerekerke" betaal sal word sodat 
daar op elke dorpie 'n yslike kerk pryk nie! Dit glo sy glo werklik!

Maar die "kollektiewe depressie" van Afrikaners, soos party mense die huidige stemming al getipeer het, is nie net 'n gevolg van die 
verlede nie. Erger nog is die wanhoop aan die toekoms. Die wanhoop bestaan ook onder ander groepe. Byna 'n driekwart van die hoofde van 
huishoudings onder wittes, bruines en Asiate beskou die toekoms van jong mense as swak of baie swak (Rapport, 22 Februarie 1998).

'n Afrikaanse beweging sal op die ou end ook moet besin oor sy oogmerke en sy toekomsvisie. Nie alle toekomsplanne is ewe deurdag nie. Een 
van die politieke leiers het op 17 Februarie 1998 voorgestel dat die getal Afrikaanse universiteite tot twee of drie verminder moet word. 
Wat vreemd is aan di voorstel, is dat daar nog hoogstens n universiteit is wat werklik Afrikaans-medium is, naamlik Stellenbosch, en 
selfs di maak uitsonderings, soos ten opsigte van bosbou. Die ander gewese Afrikaanse universiteite het reeds in wisselende mate 
parallelmedium aanvaar. Sou die betrokke leier dus bedoel dat die gewese Afrikaanse universiteite Afrikaans heeltemal moet afskaf? Het hy 
gedink aan die gevolge wat so 'n stap sou h vir die Afrikaanse onderwys in die omgewing van universiteite wat Afrikaans moet verloor? Met 
watter Afrikaanse kultuurmense het hy gepraat voor hy sy plan voorgestel het, en watter organisasie het hom die advies gegee?

Op die duur sal 'n Afrikaanse beweging ook moet dink oor wat hy as die gewenste staatkundige stelsel vir die land beskou, of as dit te 
omstrede is, watter staatkundige strewe hy nie behoort te opponeer nie. In geen land ter wreld is die debat oor die staatkundige bedeling, 
staatsideologie en verwante sake ooit afgehandel nie. Ons besef vandag iets van wat Van Wyk Louw veertig jaar gelede geskryf het: 
Afrikanerskap is nie heilig nie. Nuwe Suid-Afrikanerskap ook nie. Daar is baie dinge wat krities bekyk moet word: die unitre stelsel, die 
staatsideologie van nasiebou deur miskenning van party tale; die neiging tot sosiale manipulasie.

Die sentrale vraag is of die ideale staatsvorm vir die land 'n eenheidstaat is. Wat sal die gevolge daarvan op die duur vir Afrikaans en 
die ander inheemse tale wees? Die antwoord l voor die hand: 'n eindelose taalstryd of sekere agteruitgang oor die hele land -- eintlik nie 
of nie, maar en. Die eenheidstaat kan onder 'n onsimpatieke regime die dood in die pot vir die nie-dominante tale in 'n meertalige 
samelewing wees.

Gelukkig is taal nie die enigste strydpunt in ons land nie. Om ander redes as taal is 'n betekenisvolle staatkundige voorstel onlangs 
gedoen. Die rubriekskrywer Dawie het op 17 Januarie en 21 Februarie 1998 in Die Burger en   Die Volksblad   'n federale bedeling vir Suid-
Afrika voorgestel om die demokrasie te behou en politieke en finansile stabiliteit te verseker.

Maar so 'n bedeling kan ook help dat taalsake ten minste in 'n deel van die land, byvoorbeeld die Wes- en Noord-Kaap, bevredigender 
gehanteer word as tans. Dit kan taalgewys ook 'n positiewe invloed op die res van die land h.

Dit is gelukkig dat daar ander, dwingender oorwegings vir 'n federasie is as taal. 'n Politieke stryd hieroor hoef die taalkwessie dus nie 
te politiseer nie. Maar hoe ons ook van die politiek en die staatkunde wil wegkom, die taalvraagstuk is in wese ook 'n staatkundige 
vraagstuk, wat ongelukkig maklik 'n partypolitieke kwessie kan word. Dr. Jaap Steyn,   'n bekende taalnavorser, is verbonde aan die 
Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5210.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- April 1998 /// Afrikaanssprekendes, word onmisbaar! (AV 5:2) /// Ywer 
uit onverwagte oord (AV 5:2) /// Produktiewe aksies moet daaruit voortkom (AV 5:2) /// Leeskring-inspirasie (AV 5:2) /// Een bre 
Afrikaanse front (AV 5:2) /// Die antwoord op: Hoe leer ek Afrikaans? (AV 5:2) /// Op die stoep gaan hulle skater van plesier (AV 5:2) /// 
Afrikaans: 'n nuttige stuk gereedskap (AV 5:2) /// Afrikaans vir die Afrikane? (AV 5:2) /// Afrikaanse bewegings moet besin oor oogmerke 
(AV 5:2) /// 'n Woordlint van land tot land (AV 5:2) /// Afrikaans gryp uitdagings (AV 5:2) /// Hoe stewig is die handevat? (AV 5:2) /// 'n 
Gelukkige huis lok vele vriende (AV 5:2) /// In die ban van Karoo-Afrikaans (AV 5:2) /// Die wel en wee van 'n politieke tolk (AV 5:2) /// 
'n Reis van selfontdekking (AV 5:2) /// Nederlands wil Kaaps raakvat (AV 5:2) /// Taalvriendskap is nou moontlik (AV 5:2) /// 'n Briljante 
seun, Meyer (AV 5:2) /// Sonde met die Cravense bure (AV 5:2) /// PALJAS, paljas is die as nou af? (AV 5:2) /// Die smeerstorie (AV 5:2) 
///

